Nog ‘n Rukkie

Om weg te stap van iets wat nie sleg is nie.


Nog ‘n Rukkie

Ek weet nie wie eerste besluit het dat loyalty altyd ‘n goeie ding is nie.

Maar ek wil graag met hom praat.

Want party van ons het lojaliteit gevat en dit verander in ‘n manier om ons self stadig dood te maak.

Ons bly. Dis wat ons doen.

Ons bly in verhoudings wat lankal opgehou het om soos liefde te voel. Ons bly in vriendskappe wat meer werk as vreugde geword het. Ons bly in werk wat ons laat vergeet wie ons buite werk is. Ons bly in huise, dorpe, gewoontes en weergawes van ons self wat lankal nie meer pas nie.

En ons het vir alles ‘n rede.

Dis die deel wat my fassineer.

Die verskonings.

Ons is pros daarin om rondom die waarheid te loop sonder om ooit daarop te trap.

Nou is nie die regte tyd nie.

Kom ons kyk net wat gebeur.

Dit sal seker beter raak.

Ek wil nie iemand seermaak nie.

Ons het al so ver gekom.

Daai een is my gunsteling.

Ons het al so ver gekom.

Asof tyd ‘n rede is om aan te hou mors met meer tyd.


Die Plant

Ek dink baie van ons leef soos mense wat ‘n dooie plant water gee.

Jy sien hy’s dood. Ek sien hy’s dood. Die bure sien hy’s dood.

Maar elke Saterdag kry hy nog water.

Net ingeval.

Net omdat jy onthou hoe hy gelyk het toe hy geleef het.

Dis moeilik om iets te los wanneer jou geheue aanhou lieg oor hoe goed dit was.

Jy onthou die lag.

Die laatnaggesprekke.

Die planne.

Die weergawe van hulle wat jy liefgehad het.

Die weergawe van julle wat gewerk het.

En skielik staan jy in 2026 en probeer dinge regmaak vir iets wat sy beste dae lankal gehad het.


Die Waarheid

Niks is verkeerd genoeg om te loop nie,

maar niks is reg genoeg om te bly nie.

Die waarheid gebeur gewoonlik wanneer jy nie besig genoeg is om dit weg te praat nie.

Op pad huis toe.

In die stort.

Op ‘n Sondagmiddag wanneer die huis stil is en daar niks oor is om jou aandag te steel nie.

En skielik skree die ding wat jy maande lank probeer ignoreer harder as alles anders.

Nie omdat dit nuut is nie.

Omdat jy uiteindelik stil genoeg geraak het om dit te hoor.

Jy is nie gelukkig nie.

Nie vandag nie.

Nie hierdie week nie.

Vir ‘n lang tyd al.

Lank genoeg dat jy dit begin behandel het soos iets normaal.


Die stoel

Dis hoe ongelukkigheid werk.

Dit begin klein.

Soos daai stoel in jou kamer.

Eers lê daar net een hemp op.

Dan ‘n broek.

Dan ‘n trui.

En voor jy weet, het die stoel opgehou om ‘n stoel te wees.

Dis nou maar waar die klere bly.

Jy sien dit nie meer raak nie.

Tot iemand vra:

“Gebruik jy ooit daai stoel?”

En jy besef jy onthou nie eens wanneer jy laas daarop gesit het nie.


Die Gewoonte

Wat niemand jou vertel nie, is dat die verkeerde mense jou nie altyd breek nie.

Partykeer vat hulle net die kleur uit jou lewe.

Jy lag nog.

Net nie so maklik nie.

Jy droom nog.

Net nie so groot nie.

Jy hoop nog.

Net nie meer soos voorheen nie.

Niks maak jou regtig opgewonde nie.

Niks maak jou regtig hartseer nie.

Jy dryf net.

En dis dalk die gevaarlikste plek om te wees.

Want wanneer iets seermaak, verander jy dit.

Maar wanneer iets jou net stadig verdoof, bly jy.


Die Spieël

Ek dink die moeilikste deel is nie om mense te los nie.

Dis om te erken hoeveel keer jy reeds geweet het.

Hoeveel keer daai stemmetjie in jou kop gesê het:

“Hierdie is nie meer dit nie.”

En elke keer het jy onderhandel.

Nog ‘n rukkie.

Nog een kans.

Nog een maand.

Nog een jaar.

Asof tyd iets kan regmaak waarop die waarheid lankal opgegee het.

Ek wonder hoeveel van ons lewens bestaan uit dinge wat ons reeds geweet het, maar nog nie gereed was om te erken nie.


Huis Toe

Vir lank het ek gedink die vraag is:

“Wat as ek loop?”

Nou dink ek die beter vraag was nog altyd:

“Wat as ek bly?”

Wat as nog vyf jaar verbygaan?

Wat as niks verander nie?

Wat as hierdie nooit beter as dit gaan word nie?

Daai is die vraag wat my uiteindelik laat dink het.

Nie die vrees vir alleen wees nie.

Die vrees dat ek eendag gaan terugkyk en besef ek het die beste jare van my lewe spandeer om iets te probeer red wat lankal verby is.

En ek was die enigste een wat dit nie wou sien nie.

En ja…

Jy gaan seker nog bly.

Nog ‘n rukkie.

Jy gaan vir jouself sê jy moet net bietjie langer probeer.

Dat dinge ingewikkeld is.

Dat mense nie perfek is nie.

Dat mens nie sommer net wegstap nie.

Jy gaan nog ‘n paar verskonings maak.

Nog ‘n paar kanse gee.

Nog ‘n paar maande verloor.

Want dis wat ons doen.

Ons bly.

Totdat ons nie meer kan nie.

Totdat die moeite swaarder raak as die verlies.

Totdat die waarheid harder praat as die verskonings.

En wanneer daai dag kom, gaan jy waarskynlik dieselfde ding dink as wat ek gedink het:

Jissis.

Ek moes lankal geluister het.

xx


currently playing.

Roadtrip– Kaleidoskoop

Discover more from Fickled Lines

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading