Goed wat nie saamgaan nie.
Die goed wat ek gelukkig verloor het
Ek dink ons gee te veel krediet aan die goed wat ons verloor.
Mense praat van verlore liefde. Verlore vriendskappe. Verlore geleenthede.
Niemand praat ooit van die kak wat jy gelukkig verloor het nie.
Daai weergawe van jouself wat vir almal toegang gegee het. Daai gewoonte om verskoning te vra vir goed wat nie jou skuld was nie. Daai talent om mense se potensiaal lief te hê eerder as hulle realiteit.
Ek mis haar nie.
Sy was uitputtend.
Sy het gedink as sy net harder probeer, meer verstaan, meer gee, meer wag, meer vergewe, dan gaan mense een of ander tyd besluit sy’s die moeite werd.
Wat ‘n kak manier om besigheid te doen.
Dis soos om water in ‘n sif te gooi en verbaas te wees jy’s nog dors.
Huurders
Party mense kom in jou lewe in soos huurders.
Hulle skuif die meubels rond. Gebruik al die warm water. Los die plek erger as wat hulle dit gekry het.
En wanneer hulle loop, vat hulle die tv se remote ook saam.
Dan sit jy daar en wonder wat jy verkeerd gedoen het.
Niks.
Jy het net iemand laat bly wat lankal moes uitcheck.
Ek dink dis hoekom mens sukkel om dinge agter te los. Nie omdat ons dit liefhet nie. Omdat ons daarin belê het.
Tyd.
Hoop.
Verduidelikings.
Tweede kanse.
Derde kanse.
Daai een WhatsApp wat begin met:
“ek verstaan waar jy vandaan kom…”
Nee.
Fok dit.
Party mense kom presies van waar hulle lyk of hulle vandaan kom.
Die probleem was nooit die rooi vlae nie.
Die probleem was hoe kreatief ek geraak het met verduidelikings.
Die waarheid?
Ek het nie mense verloor nie.
Ek het illusies verloor.
En daai goed weeg baie meer.
Want ‘n mens kan oor iemand kom.
Dis die storie wat jy oor hulle geskryf het wat jou opfok.
Die weergawe wat sou gebly het. Sou verander het. Sou gekies het. Sou verstaan het. Sou teruggekom het.
Sou.
Die mooiste woord in die Afrikaanse taal as jy daarvan hou om jouself te belieg.
Intussen
Intussen gaan die lewe aan.
Die winkels verhoog pryse.
Iemand kry ‘n baba.
Iemand kry kanker.
Petrol per liter kos net soveel soos melk.
En die son kom op asof hy nie eers weet jy’s hartseer nie.
Fokken brutal eintlik.
Maar dalk is dit die punt.
Die wêreld stop nie om jou kans te gee om alles saam te vat nie.
Jy moet kies.
Wat gaan saam?
Wat bly?
Wat word stof?
Wat word deel van jou storie?
Wat word iets waaroor jy eendag lag by ‘n braai na drie glase wyn?
Stoorkamers
Ek weet nie.
Maar ek weet hierdie:
Ek is moeg daarvoor om ‘n stoorkamer te wees vir goed wat verval het.
As iets my nie meer dien nie, my nie voed nie, my nie leer nie, of my nie laat lag nie—
kan dit agterbly.
Saam met die skuld.
Die mense.
Die ou drome.
En die weergawes van myself wat gedink het liefde beteken om jouself stadig op te vreet vir iemand anders se gemak.
Hulle kan almal daar bly.
Ek het nie meer plek nie.
Die kar is vol.
Die pad vorentoe nie.
xx
“Ek het nie closure gekry nie. Ek het net moeg geraak.”
– Fickled Lines
currently playing.
Wondergom – Almero

